Mooi Praatjies

mooi praatjiesElektrolise met ‘n verskil
Ek het al voorheen geskryf van die nare hare wat in die middeljare hul opwagting maak waar hulle intens onwelkom is – op die bolip, ken en in die nek.

Al raad daarmee is laser, maar laser is nie juis suksesvol op blonde, wit of grys hare nie, omdat dit moet werk op die donkerder pigment in die hare.

Dus bly net elektrolise oor. Nou kyk, ek is nie kleinserig nie, maar dit is regtig nie ‘n plesierige ervaring nie. Dit beteken ‘n naald (nie alte klein nie) word in die haarwortel gesteek, ‘n galvaniese elektriese stroom word deur die naald gestuur, dit maak die haar los, die wortel dood en dis verby met die stekelrige laspos. Tot die volgende een kop uitsteek, natuurlik, so ‘n millimeter of wat verder. Grrrrr.. Dan is dit weer van voor af dieselfde pynlike proses.

Nou het die slim Tzvia Herman, eienaar van die Laser Beautique salonne, ‘n nuwe elektrolise masjien in Israel opgespoor wat die idee van ongemaklike, pynlike elektrolise nek omdraai.

Dit Apilus elektrolise-sisteem bied honderd persent haarverwydering vir hare van enige kleur. Dit is feitlik pynloos en baie vinniger as tradisonele elektrolisis.

Hoe werk dit?
‘n Haarfyn naaldjie word regstreek in die individuele haarfolikel geplaas (nee, dit is NIE seer nie) om die haar met ‘n ligte elektriese stroom los te maak uit die haarvaatjie sodat dit nie weer ‘n nuwe haar produseer nie. Die tegniek word genoem flash thermolysis, en dit voel soos ‘n kort, skerp speldprik. Die termolise-tegnologie is vinniger en nie so pynlik soos die tradisionele galvaniese stroom nie.

LEBO2

My terapeut Lebo met haar Apilus elektrolise masjien.

My deeglik opgeleide elektrolise-terapeut, Lebo, was ‘n ster. Sy was ‘n meester met ‘n naald, het elke stap vir my haarfyn verduidelik en bowenal het sy my nie seergemaak nie. Ek het ook geen rooi merke agterna gehad nie.

Dit is ‘n puik opsie vir permanente haarverwydering en ek het die paar lastige haartjies wat knaend op my ken hul verskyning maak (dis nou maar die hormonale stryd van die middeljare…) in ‘n kwessie van minute vaarwel toegeroep. Dit beteken egter nie dat daar nie nog ander stekels gaan opduik nie – die aantal sessies wat nodig is, hang af van hormonale aktiwiteit, of die hare voorheen uitgepluk of gewaks is, en die pas waarteen hare groei.

Ek sal ongetwyfeld nog een of twee keer moet teruggaan, want in die afwesigheid van hul voorbarige maters het anargistiese bendelede met nuwe brawe stekels begin kop skiet. Maar nou het ek ‘ n stewige arsenaal wat hulle inwag – soos Dirty Harry sê: Make my Day!

Kyk gerus hier hoe dit werk. Daar is verskeie Laser Beautique takke landswyd waar jy die behandeling kan kry.

Fauve Duckworth

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *